Media24 stig internasionale adviesforum om digitale groei te versnel

1 Mei 2017

Media24 het vandag die stigting van ’n Digitale Adviesforum (DAF) met internasionale kenners aangekondig om sy digitale media- en e-handelbedrywighede verder te versterk. Die DAF bestaan uit vier lede wat Suid-Afrika se toonaangewende mediamaatskappy van aansienlike internasionale kundigheid op die gebied van e-handel, geklassifiseerde advertensies en digitale media van Europa, Amerika en China sal voorsien. Hulle het almal senior poste by maatskappye soos die Skandinawiese mediareus Schibsted, The New York Times (NYT), Naspers en eBay beklee.

“Media24 herposisioneer homself om voordeel te trek uit die digitale wêreld,” sê prof. Rachel Jafta, voorsitter van Media24. “Om die strategie vir ’n lang lewensduur te help verfyn, het die direksie en bestuur die behoefte besef om van internasionale kenners te leer en daarom die Digitale Adviesforum geloods.”

Sverre Munck, voorsitter van die DAF, het onlangs as uitvoerende visepresident van Schibsted uitgetree. “Media24 se digitale prestasies in nuusmedia, e-handel en geklassifiseerde advertensies is aansienlik,” sê hy. “Terwyl Media24 sy transformasie voortsit om Afrika se toonaangewende digitale uitgewer te word is ons verheug om die DAF van ons wye ondervinding van groot internasionale media- en e-handelsmerke te voorsien. Ons deelname maak die uitruil van hierdie ondervinding met Media24 se talentvolle bestuurspan moontlik.”

Die ander lede van die DAF is Yasmin Namini, Pat Kolek en Evelyn Chan. Namini het ‘n sleutelrol gespeel in die konseptualisering en implementering van die NYT se betaalmuurstrategie, terwyl Kolek, bedryfshoof van Naspers, meer as 20 jaar se ondervinding het in die uitvoer van groei- en ontwikkelingstrategieë vir hipergroei-organisasies soos eBay. Chan, ’n deskundige op die gebied van die tegnologie- en internetbedrywe in China, het meer as 10 jaar se ondervinding in beleggingsbanksake en skansfondse en is tans Naspers se direkteur van eksplorasie in Hongkong. Sy sal later vanjaar by die span aansluit.

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, sê terwyl die maatskappy se sterk en vertroude drukmediaportefeulje steeds die kern van sy bedrywighede is, is dit ten volle gefokus op sy digitale mediabates en gediversifiseerde bedrywighede soos e-mode, e-handel en digitale dienste. “Ons oë is op die toekoms gerig en ons het groot ambisies om een van wat ek glo net ’n handvol drukmediamaatskappye wêreldwyd te wees wat in die digitale ruimte sal floreer, beide wat betref gehoorgetalle en finansiële sukses. Ons het verreweg Suid-Afrika se grootste digitale mediabesigheid ontwikkel. Die DAF, met sy indrukwekkende kollektiewe digitale en e-handelondervinding, sal ons uitvoering van hierdie ambisies versnel.”

Meer oor die DAF

Sverre Munck (63) is die voorsitter van Media24 se DAF. Hy was ’n dryfveer in die Schibsted-mediagroep se transformasie van ’n Noorweegse koerantmaatskappy tot ’n globale media- en internetreus. Hy met meer as 20 jaar se ondervinding in mediabestuur, onder meer as hoofbestuurder van Schibsted se groot portefeulje gemeenskapskoerante en as finansiële groephoof. Hy het die maatskappy se geslaagde migrasie na aanlyn geklassifiseerde advertensies aangevoer wat begin het met Europese webtuistes soos compraventa.com en leboncoin.fr. Sverre was die nie-uitvoerende voorsitter van die sagtewaremaatskappy Opera Software en dien in die digitale adviesraad van die Switserse mediagroep Tamedia en direksies van verskeie Noorweegse begin-ondernemings. Voordat hy by Schibsted aangesluit het, was hy ’n konsultant by McKinsey en vir die Noorweegse finansministerie. Hy het ’n BA in ekonomie van Yale en ’n PhD in ekonomie van Stanford.

Yasmin Namini (56) het onlangs uitgetree as senior visepresident en gebruikershoof van die NYT, met oorhoofse verantwoordelikheid vir druk- en digitale subskripsie-inkomste en die data- en klantinsigtespanne van hierdie bekroonde nuusonderneming. Sy het meer as 30 jaar se ondervinding in nuusbestuur. Namini het ná universiteit haar loopbaan in die NYT se sirkulasieafdeling begin. Sy het oor die jare verskeie sleutelposte in advertensies, bemarking en produkontwikkeling beklee, waaronder senior visepresident van bemarking en sirkulasie. Namini dien op die raad van die internasionale mediabedryfsliggaam INMA, doen konsultasiewerk vir ’n mediamaatskappy in Indië en is ’n gereelde spreker op die internasionale mediaverhoog. Sy het ’n graad in sielkunde van die Universiteit van Maryland en ’n meestersgraad in toegepaste statistiek van die Universiteit van Villanova.

Pat Kolek (46) is die bedryfshoof van Naspers. Hy het in 2014 by die groep aangesluit as finansiële hoof van e-handelbedrywighede en is in Julie verlede jaar tot sy huidige rol bevorder. As groepbedryfshoof sorg hy dat die groepstrategie in lyn is met maatskappydoelwitte. Hy dryf ook kernsakeaktiwiteite en strategiese inisiatiewe soos groot verkrygings en verkope. Voordat hy by Naspers aangesluit het, was hy 10 jaar lank by eBay, tot onlangs as visepresident en finansiële hoof van eBay International en voorheen as bedryfshoof van eBay Classifieds. Kolek het ’n BCom van die Universiteit van Santa Clara en is ’n gesertifiseerde openbare rekenmeester.

Hiu Tung (Evelyn) Chan (34) het in 2015 by Naspers aangesluit as direkteur van eksplorasie in die maatskappy se Hongkongse kantoor. Sy verskaf die Naspers-groep van insigte in China se tegnologie- en internetbedrywe. Chan het ’n meestersgraad in filosofie en sosiale en kulturele antropologie van die Universiteit van Oxford, waar sy ’n Rhodesbeurshouer was.