24.com stel News24Wire bekend om Sapa te vervang

5 Maart 2015

Media24 se digitale afdeling, 24.com, het vandag opwindende planne aangekondig vir die bekendstelling van ’n nuusdiens in April. Die aankondiging volg kort na die sluiting van die Suid-Afrikaanse Persagentskap (Sapa). Die nuwe nuusdiens sal bekend staan as News24Wire.

’n Nasionale verslagspan van 16 lede word tans deur die veteraan-redakteur en hoofredakteur van News24, Andrew Trench, op die been gebring as ’n inligtingsbron vir die land se pers. Onder leiding van Sapa se nuusredakteur, Fienie Grobler, sal die span brekende nuus van oral in die land verskaf. Dit sal aangevul word deur kopie uit Media24 se stal.

Inhoud van News24Wire sal gratis wees vir alle digitale publikasies, en vir sindikasie deur drukmedia-, uitsaai-, radio- en korporatiewe vennote. Die nuusdiens sal aanvanklik op teks fokus en later uitbrei om beeldmateriaal, datajoernalistiek en multimedia-pakkette in te sluit.

Lisa MacLeod, Media24 se hoof van digitale uitgewery, het gesê: “As ’n lank dienende lid van Sapa, besef en ondersteun Media24 terdeë die waarde van ’n goed bestuurde nuusdiens, en ons het probeer om soveel van Sapa se personeel en dienste as moontlik te akkommodeer.”

“Ons skep tans ’n ten volle digitale nuusdiens met kantore oor die hele land,” het Trench gesê. “Baie van Sapa se verslaggewers, wat die vermoë het om ons nuuswerwe News24 en Netwerk24 tot ’n nuwe vlak te verhoog, en ook die ervaring het om ons te help om ons nuusdiens op te bou, het aansoek gedoen om by ons aan te sluit. Ons werwing van spanlede het ’n gevorderde stadium bereik.”

News24Wire sal verseker dat Sapa se legendariese daaglikse nuusdagboek ononderbroke voortgaan, met Sapa se dagboekredakteur aan die hoof.

Met kantore wat reeds in Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Durban en Bloemfontein op die been gebring is, sal News24Wire ook tot ’n uitgebreide netwerk van hulpkorrespondente toegang hê. Die diens sal fokus op Suid-Afrikaanse inhoud, en veral op brekende nuus en politiek. Dit sal ook sakenuus, sport en nuus afkomstig van die gevestigde nuuskantore van News24 in Nigerië en Kenia dek.

“Ons is veral bly om, na die onlangse debakel rondom die onderdrukking van verslaggewing in die Parlement, ons nuus gratis aan digitale vennote te kan aanbied – om daarmee persvryheid en onbelemmerde toegang tot inligting vir beide uitgewers en gebruikers van nuus in Suid-Afrika te verseker,” het Trench gesê.

News24Wire sal op 1 April – die dag na Sapa se sluiting – ’n nuwe nuusdiens en daaglikse dagboekdiens bekend stel. ’n Persverklaring-nuusdiens vir intekenare sal volg, en sal teen mededingende tariewe toegang bied tot News24 se toonaangewende reikwydte ten opsigte van sy gehore.

Sindikasie en toegang sal hanteer word deur Gallo Images, en kliënte kan hul belangstelling registreer en op ’n proefgrondslag inteken deur e-pos te stuur aan sales@galloimages.co.za.

Trench het ten slotte gesê dat dit regtig ’n opwindende projek is en dat hulle baie ingenome is met die kaliber en omvang van aansoeke wat hulle ontvang het van die beste verslaggewers en nuusredakteurs van oral in die land.