Bobby en Karlien in die TV-gebeurtenis van die jaar

15 November 2016

Vir die eerste keer in Afrikaanse televisie kom daar ‘n werklikheidsprogram wat twee van ons grootste sterre volg op ‘n unieke en emosionele avontuur. Bobby en Karlien van Jaarsveld laat die kameras toe om hulle te volg in die reeks Bobby en Karlien: In jou skoene. Dit begin op Woensdag 11 Januarie 2017 om 20:30 eksklusief op die leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147).

Die titel sê alles. In elke episode stuur Bobby en Karlien se naaste familielede hulle weg op ‘n lewensveranderde uitdaging. Kykers beleef die ervarings eerstehands saam met die twee. Hul suster Cara daag hulle byvoorbeeld uit om met ‘n begroting van R100 vir twee dae hul glansryke lewe in Pretoria-Oos te verruil vir die arm buurt Elandspoort reg langs Danville. Met die geld moet hulle vir hulself en nog mense kos gee. Bobby word deur sy pa, Bob Sr., uitgedaag om die verhoog te verruil vir diens by ’n renosterbeskermingspan. Hul ma, Ronel, stuur Karlien met ’n taxi township toe om die naweek saam met haar huishulp deur te bring.

‘’In hierdie reeks word al die emosies wat ek al ervaar het saamgepers in een program. Ek dink dit gaan mense se harte raak; dit het beslis my lewe verander,” sê Bobby.

Karlien stem saam. “Kykers kan verwag om ons regtig te leer ken. Die program is een van die beste dinge wat ek al ooit in my lewe gedoen het. Dis regtig spesiaal.”

Izelle Venter, die kanaalhoof van VIA, sê dié nuwe werklikheidsprogram is ’n droom wat waar word vir VIA. “Bobby en Karlien is so bekend aan ons kykers soos braaivleis en rugby, maar nou gaan ons ’n nuwe kant van hulle leer ken.

En die wêrelde waaroor ons ook wonder eerstehands saam met hulle beleef. Dis nie die Kardashians nie, dis die Van Jaarsvelds met hart en siel!”

Bobby en Karlien: In jou skoene skop af met ’n uur en ’n half lange episode op Woensdag 11 Januarie om 20:30 (die volgende episodes is ’n uur lank). Die reeks bestaan uit 13 uiteenlopende episodes wat landwyd geskiet is. Nuwe episodes van Bobby en Karlien: In jou skoene word elke Woensdag om 20:30 net op VIA uitgesaai.

‘’Ons glo Media24 gaan met hierdie unieke formaat ‘n harde slag slaan in die plaaslike TV-bedryf. Dis wonderlik om te sien hoe ons die stories en mense wat dag na dag op ons digitale platforms en in ons drukprodukte is, ook hul plek vind op ons TV-kanaal VIA,’’ sê Esmaré Weideman, die uitvoerende hoof van Media24.

Die reeks is geskep deur Carien Loubser van Brainwave Productions, wat bekend is vir TV-programme soos die SAFTA-bekroonde Revlon Supermodel en die kykNET-treffer Die Republiek van Zoid-Afrika.

Klik hier om die promo-video te kyk.

Programroosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Twitter om op hoogte te bly met al die nuutste verwikkelinge.

VIA is gemik op Afrikaanse gesinne en wentel om kos, styl en verhoudings.

Vir nog besonderhede oor die programme of aanbieders, kontak Robert Kaden by robert.kaden@media24.com of besoek viatv.co.za.