Bobby en Karlien se VIA-program roer Afrikaanse gehore

26 Januarie 2017

Binne net drie weke het die nuwe werklikheidsprogram Bobby en Karlien: In jou skoene, wat Woensdag 11 Januarie op VIA (DStv-kanaal 147) afgeskop het, diep in Afrikaanse TV-gehore se harte ingekruip. Die leefstylkanaal VIA, wat nog net 14 maande op die lug is, het met dié program weer bewys hy is ernstig oor sy plek in die Afrikaanse kykersmark. Ná die eerste episodes het die reeks, wat saam met TOYOTA aangebied word, die hoogste kyksyfers op VIA behaal en kraai dit nou koning as dié kanaal se topprogram.

In die reeks, wat vervaardig word deur Brainwave Productions, laat Bobby en Karlien van Jaarsveld hul bevoorregte lewe agter om 48 uur deur te bring in die skoene van iemand wie se wêreld hemelbreed van hulle s’n verskil. In elke episode pak die bekende boet-en-sus ’n nuwe uitdaging.

In die eerste episode het hulle gaan kuier by die Abraham Kriel-kinderhuis op Modimolle (Limpopo) wat hul aangrypende stories met ons gedeel het. ’n Skare-fondsinsamelingsveldtog op die platform Candystick is saam met die episode begin en binne twee weke is R65 390 vir dié kinderhuis geskenk. “Ons is uit ons harte uit dankbaar,” sê Gerda van der Merwe, die uitvoerende hoof van die kinderhuis. “Eerstens vir Bobby en Karlien van Jaarsveld wat die kinders se stories onder mense se aandag gebring het, tweedens vir VIA wat die Abraham Kriel-kinderhuis by hierdie inisiatief betrek het, en derdens die publiek vir hul ongelooflike ondersteuning. Ons is so dankbaar vir die groot bydrae, want dit maak die finansiële las op die kinderhuis soveel ligter.”

Na afloop van episode drie is daar nog ’n skare-fondsinsamelingsveldtog op die platform Candystick begin, dié keer om geld vir die Hanna Charity and Empowerment Foundation in te samel. Bobby en Karlien het twee dae deurgebring in die minder bevoorregte Pretoriase buurt Elandspoort, waar die bekende Hanna Grobler se liefdadigheidsorganisasie verskeie dienste lewer. Gaan na candystick.co.za en klik op die Bobby en Karlien-ikoon.

“Ek dink Bobby en Karlien, asook hul gaste in elke episode, verdien al die eer. Dis die eerlikheid en integriteit van die program wat ons kykers roer. Dis fassinerend om te sien hoe kykers wat eers maar skepties oor die reeks was, nou Bobby en Karlien se reise deel. Dis vir VIA ’n absolute voorreg om die platform vir dié stories te kan wees,” sê Izelle Venter, VIA se kanaalhoof.

Daar is nou ook opwindende nuus vir aanhangers van dié werklikheidsprogram: Vanaf 25 Januarie sal Bobby en Karlien: In jou skoene ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Nuwe episodes van Bobby en Karlien: In jou skoene wys elke Woensdag om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met herhalings oor naweke op Sondae om 18:30. Hou Huisgenoot en huisgenoot.com dop vir eksklusiewe stories oor die reeks.

Programroosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Twitter om op hoogte te bly met al die nuutste verwikkelinge.