Gehalte en kreatiwiteit werp vrugte af

15 Desember 2016

24.com is onlangs gekies as Suid-Afrika se beste aanlyn uitgewer en News24 is steeds die land se grootste webtuiste, volgens Effective Measure se jongste statistieke vir webtuisteverkeer vir November.

News24 het sy posisie as markleier behou met 83 miljoen bladlese en 7 miljoen unieke besoekers vir web in November.  Die News24-app het ook gedurende dieselfde tydperk die plaaslike mark vir nuusapps oorheers met 846 000 unieke besoekers en ‘n astronomiese 207 miljoen bladlese.

24.com genereer nou meer as 14 miljoen daaglikse bladlese, waarvan 80% via mobiele web en apps is. Fin24, ook in die 24.com-stal, is tans die top-sakewebtuiste in SA.

Andreij Horn, hoof van 24.com, sê hy is ontsettend trots op die werk wat die span doen om die netwerk se posisie as die voorste aanlyn uitgewer in SA te verstewig. “News24 is steeds Suid-Afrika se nuuswebtuiste wat die meeste besoek word en die meeste van 24.com se leefstylstal het die grootste markaandeel,” sê hy. “Dit spreek volumes oor die 24.com-span se verbintenis tot gehalte en kreatiwiteit.

“Ons het vanjaar projekte soos News24 Frontline, News24 Edge en The Huffington Post South Africa verwelkom en ons sien uit na nog nuwe innovasies en gebruikers in 2017.”

24.com het daagliks 1,4 miljoen unieke besoekers dwarsoor al sy nuus- en leefstylkanale.