HuffPost en Media24 kondig bekendstelling van HuffPost South Africa aan

21 November 2016

The Huffington Post, in vennootskap met Media24, het vandag The Huffington Post South Africa (www.huffingtonpost.co.za) bekendgestel. Dit is The Huffington Post se eerste uitgawe suid van die Sahara. HuffPost South Africa sal ’n platform vir plaaslike stemme en gemeenskappe verskaf en terselfdertyd Suid-Afrikaners ’n verskeidenheid plaaslike en internasionale nuus, politiek, leefstyl en vermaak bied.

Die vennootskap kombineer die sterkste kenmerke van The Huffington Post, ’n toonaangewende globale bron van die jongste nuus, video’s, artikels, vermaak en opinies en gesprekke van ’n ingeligte en betrokke globale gemeenskap, met Media24, Suid-Afrika se grootste uitgewer van digitale media met maandeliks meer as 16 miljoen unieke besoekers op alle webtuistes.

“Suid-Afrika se ryk en polities betrokke geskiedenis demonstreer ’n sterk behoefte vir ’n plek waar mense hul stem kan laat hoor en hul opinies kan lewer,” sê Jared Grusd, uitvoerende hoof van The Huffington Post. “Ek is daar gebore en is daarom veral trots om te kan sê HuffPost is nou daardie bestemming. Ons hoop ons platform kan mense help om ’n beter lewe te lei, meer ingeligte besluite te neem en sterker gemeenskappe te bou.”

Verashni Pillay is as die hoofredakteur van HuffPost South Africa aangestel. “Die kombinasie van intelligente leefstyl- en harde nuus is volmaak vir waar baie Suid-Afrikaners hulself tans bevind: geïnteresseerd in alles en almal en, nou meer as ooit, wat dit vir hulle beteken,” sê sy. “En dit alles word aantreklik aangebied op ’n digitale platform wat deur gehore wêreldwyd uitgetoets is.”

The Huffington Post se eerste internasionale uitgawe is in Mei 2011 bekendgestel. Binne slegs vyf jaar het die webtuiste in 16 markte oor ses vastelande ontplof en is meer as die helfte van die gehoor buite Amerika gebaseer. HuffPost het meer as 300 redakteurs in byna 20 lande buite Amerika en met die bekendstelling van HuffPost South Africa, die handelsmerk se 17de uitgawe, is die maatskappy se globale teenwoordig steeds aan die uitbrei.

Media24 is Suid-Afrika se toonaangewende mediamaatskappy met die grootste markaandeel in koerante, tydskrifte en digitale uitgewerye. 24.com, die maatskappy se afdeling vir digitale media, is die land se voorste bestemming vir nuus, leefstyl en vermaak. Media24 se aansienlike portefeulje druk- en digitale handelsmerke is gerig op ’n wye sosio-ekonomiese mark en maak voorsiening vir Suid-Afrika se uiteenlopende demografiese samestelling.

“Ons is opgewonde oor die vooruitsig om met The Huffington Post saam te span om ’n Suid-Afrikaanse uitgawe te loods,” sê Andreij Horn, hoof van 24.com. “Ons glo die HuffPost-gehoor sal 24.com verder uitbou en deel vorm van sy steeds groeiende portefeulje digitale bates wat betrokke gehore van wêreldklas-joernalistiek en -inhoud verskaf en adverteerders waardevolle kontak met dié gehore bied. Ons sien daarna uit om nou met The Huffington Post saam te werk om die handelsmerk uit te bou en sy innovasies op die gebied van digitale media na Suid-Afrika te bring.”

The Huffington Post het reeds ’n groot gehoor in Suid-Afrika, met bykans 750 000 unieke besoekers per maand volgens comScore.

Gaan na www.huffingtonpost.co.za of volg HuffPost SA op:

Facebook by https://www.facebook.com/HuffPostSouthAfrica/

Twitter by https://twitter.com/HuffPostSA

Instagram by @huffpostsa