HuffPost SA skop af op ’n gesellige noot

1 Desember 2016

Politiek, die land se toekoms, grondherverdeling, geslag en rassisme was net ’n paar van die onderwerpe wat opnuut in oënskou geneem is by HuffPost SA se bekendstelling by Katy’s Palace in Johannesburg verlede Sondag.

Meer as 200 gaste het ’n traditionele Sondagmaaltyd geniet terwyl hulle na verskeie sprekers geluister het. Die radiopersoonlikheid, Anele Mdoda, was die seremoniemeester vir die geleentheid.

HuffPost SA se hoofredakteur Verashni Pillay het ’n paneelbespreking gelei met EFF-woordvoerder en LP Mbuyiseni Ndlozi, DA-woordvoerder en LP Phumzile Van Damme en komediant en SA se geliefkoosde toneelpop Chester Missing. Woordvoerder vir binnelandse sake en ANC-lid Mayihlome Tshwete was ook veronderstel om aan die paneelbespreking deel te neem, maar sy vlug is vertraag en hy het die geleentheid misgeloop. Die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, was die hoofspreker by die geleentheid en het nie doekies omgedraai nie. Klik hier om na sy toespraak te luister. Hy het ook gaste se vrae beantwoord.

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, en Jared Grusd, uitvoerende hoof van The Huffington Post Media-groep, het die gaste verwelkom.

HuffPost SA word in vennootskap met Media24 uitgegee. Dit is die 17de internasionale uitgawe van die publikasie en is op 21 November geloods.