Gemeenskapsbetrokkenheid

Media24 se strategiese raamwerk vir gemeenskapsprojekte sluit aan by die maatskappy se strategie om vir verbruikers en kliënte relevant en van waarde te bly en vir sy aandeelhouers waarde te skep. As ’n medialeier in Suid-Afrika, is dit ons strewe om ons handelsmerke met mense te verbind en van diens te wees in die gemeenskappe waar ons bedrywig is. Gemeenskapsprojekte is vir ons meer as filantropie – dit vloei voort uit ons sakedoelwitte, en ons korporatiewe maatskaplike investeringsprojekte word geskep en ontplooi met die doel om kommersiële en handelsmerkwaarde te bevorder.

Ons drie jaar-strategie (2015 tot 2018) sal fokus op opvoeding, ondernemingsontwikkeling, gesondheid, vaardigheidsontwikkeling, kuns en kultuur, en handelsmerk-ontwikkeling.

PROJEKTE

OnsKan24 is ’n mobielemedia-gedrewe digitale nuusnetwerk vir skole, wat deur Media24 ontwikkel is. Ons besoek skole oor die hele land en verskaf opleiding aan jong aspirant-joernaliste met ’n sterk belangstelling in die mediabedryf. Met OnsKan24 rus ons hulle toe om hul eie digitale skoolnuus-platform te skep.

Met ons interne Vrywilligers24-program kry ons personeellede die geleentheid om talle korporatiewe maatskaplike inisiatiewe te ondersteun en iets aan die gemeenskap en aan behoeftiges terug te gee.

Borgskappe wat kuns en kultuur ondersteun

Media24 is ’n sterk ondersteuner van die kunste en was ’n stigterborg van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Aardklop en Vryfees. Ons ondersteun ook verskeie kleiner feeste.

Ondernemingsontwikkeling-inisiatiewe

Media24 het kragte saamgesnoer met die innoverende Clothes to Cash Exchange (C2CX)-projek en die ForwardFund om die ontwikkeling van plaaslike klein sakeondernemings en entrepreneurs te ondersteun.

C2CX samel oortollige klere in om mikro-entrepreneurs en entrepreneurs met gestremdhede te ondersteun. Die ForwardFund is ’n geregistreerde onafhanklike fonds wat klein sakeondernemings met saaikapitaal help, met die strewe om vaardighede te ontwikkel en entrepreneurskap, ondernemingsontwikkeling en maatskaplike veranderingsinisiatiewe te bevorder.

Vir borgskappe, of meer inligting oor Media24 se KMV-strategie, kontak:

Adrie Jurgensen, Groepbestuurder: Gemeenskapsprojekte

T: 021 406 2548

E: sponsorships@media24.com