Maatskappy-inligting

Met ’n omset van meer as R5,5 miljard per jaar, is Media24 ’n toonaangewende uitgewersgroep in Afrika. Sy bedrywighede sluit in koerante, tydskrifte, internetbesighede, uitgewerye, drukperse en verspreidingsmaatskappye. Dié goed gebalanseerde portefeulje van beleggings in die media en uitgewerswese, asook ’n voortgesette strategie van deurlopende vernuwing en aanpassing, het geblyk ’n wenformule te wees wat van Media24 ’n toonaangewende sake-entiteit in die publikasieveld gemaak het.

Media24 se meerderheidsaandeelhouer is die mediamaatskappy Naspers.

Geskiedenis

Naspers is in 1915 gestig. Sy eerste produk was die daaglikse koerant De Burger, wat in dieselfde jaar gepubliseer is as wat die maatskappy tot stand gekom het. ’n Maandelikse publikasie, De Huisgenoot, het in 1916 die lig gesien. ’n Nederige drukpers is op die been gebring, waarna verskeie uitgewers, tydskrifte en talle ander titels óf van stapel gestuur óf aangekoop is. In die dekades sedert sy ontstaan het Naspers gegroei tot ’n geïntegreerde multinasionale mediagroep wat fokus op die media- en uitgewersbedrywe, digitale produkte, televisie en die internet.

In Augustus 2000 het Media24 – die voormalige Nasmedia – ’n onafhanklike maatskappy met sy eie omvattende infrastruktuur geword. As gevolg van die herstrukturering het Naspers al sy gedrukte media-belange – koerante, tydskrifte, drukperse en verwante internetbelange – geplaas onder een sambreel met ’n enkele entiteit, ’n onafhanklike uitvoerende hoof en sy eie visie, bedryfstrategie en direksie. In April 2005 het die Media24-struktuur ’n verdere verandering ondergaan toe twee ander Naspers-afdelings as twee onafhanklike besigheidseenhede geïnkorporeer is: Via Afrika, wat verskeie besighede in die boekbedryf het, en Educor, die voorste verskaffer van private onderrig in Suid-Afrika. Media24 het egter in Januarie 2008 besluit om die Educor-besighede te verkoop.