Korporatiewe Gemeenskapsbetrokkenheid

www.csi24.co.za

Ons het ons pogings gefokus deur by minder projekte betrokke te raak, maar terselfdertyd groter betrokkenheid deur ons diverse publikasies en sake-eenhede te bevorder en aan te moedig.

So werk verskeie sake-eenhede en publikasies byvoorbeeld saam om ‘n projek soos die Media24 Rachel’s Angels mentorskapprojek in samewerking met die Stellenbosch Universiteit ’n reuse sukses te maak. Die Rachel’s Angels Trust is ‘n bemagtigingsprojek wat fokus op die holistiese ontwikkeling van graad 11 en 12 leerders van skole in die Wes-Kaap met behulp van ‘n mentor, ‘n senior student van US. Dié tweejaarlange ontwikkeling fokus op akademiese, sosiale en emosionele ontwikkeling van leerders. 
Media24 se publikasies - insluitende Drum, Destiny Man, Daily Sun en Ads24 - het ook ‘n soortgelyke projek in die Oos-Kaap, die Inkwenkwezi Trust, ondersteun.

Vrywilligersprojekte by Media24 het die smeer van meer as 10 000 broodjies in 67 minute vir Madiba Dag ingesluit, sowel as die insameling van speelgoed vir kleuters as deel van die jaarlikse Toy-Toyprojek, die skenk van ‘n herwinbare vraghouer as ‘n ekstra klaskamer aan ‘n voorskoolse sentrum, ondersteuning van die jaarlikse KANSA Shavathon en verskeie ander kleiner projekte.

Media24 het ook onlangs ongebruikte meubels aan meer as 30 nie-winsgewende organisasies geskenk en vier klein besighede in dié bedryf gehelp met skenkings as deel van ‘n eenmalige meubelprojek. Die Boeke afdeling van die besigheid het weer, soos in die verlede, boekskenkings aan verskeie organisasies gemaak terwyl koerante, tydskrifte en ons internetbesigheid organisasies bygestaan het met verlaagde advertensietariewe of gratis blootstelling.

Organisasies wat hierby gebaat het, sluit die volgende in:
Childline, CHOC House, Sunflower Fund, WWF, Childline, Habitat for Humanity, NSRI en Reach for a Dream.

Personeel het ook vanjaar die geleentheid gekry om Xhosa- en Zoeloeklasse by te woon, deel te neem aan internasionale inisiatiewe soos Earth Hour en verskeie pretstap en -drafgeleenthede te ondersteun.
Media24 se volgehoue ondersteuning van die kunste in Suid-Afrika is ook voortgesit met ons betrokkenheid by, om net ‘n paar te noem, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Die Burger Suidoosterfees en Aardklop. Geletterdheidsprojekte soos die Zululand Fever Spelling Bee, die Beeld Geletterdheidsweek, Leer & Presteer en die Stigting vir Afrikaans is ook deur die loop van die jaar deur Media24 ondersteun.