Media24 dra publikasieregte vir twee titels oor na oudredakteurs

19 Januarie 2017

Media24 Leefstyl het die publikasieregte vir die kreatiewe leefstyl tydskrif Idees/Ideas en die maandelikse vrouetydskrif Lééf oorgedra na die onderskeie voormalige redakteurs van die titels, het die uitgewer vandag bekend gemaak.

“Dit is wonderlike nuus dat hierdie titels bly voortleef, en boonop onder die leierskap van twee sulke toegewyde en ervare redakteurs soos Terena le Roux van Idees/Ideas en Christine Ferreira van Lééf,” sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24.

Dit volg op die aankondiging in November 2016 dat Media24 nie langer hierdie twee titels en topCar gaan uitgee nie, en ook die internasionale lisensie-regte vir Top Gear en Grazia opgeskort het; in lyn met die maatskappy se strategie om sy posisie te verstewig as Afrika se leidende digitale uitgewer, met ook ‘n baie suksesvolle drukmedia-onderneming in sy portefeulje.

“Ons kon nie vir ‘n beter oplossing vra as dat Idees/Ideas en Lééf deel bly van die plaaslike tydskrifte-media nie; hulle is gevestigde nis-titels met hoogs betrokke gehore,” sê Ishmet Davidson, hoofbestuurder van Media24 Drukmedia. “Die handelsmerke is in baie bekwame hande en ons wens Terena en Christine en hul onderskeie spanne net die beste toe vir vorentoe.”

Idees/Ideas gaan voortleef as ‘n tweemaandelikse tydskrif (in druk en digitaal) in Afrikaans en Engels, met ‘n sosialemedia-aanbod. Die eerste nuwe uitgawe word beplan om in Maart sy buiging op die winkelrakke te maak.

“Dit is vir my en my talentvolle span ‘n wonderlike geleentheid om nou werklik deel te word van die gemeenskap kreatiewe entrepreneurs wat oor so baie jare in ons tydskrif verskyn het,” het Terena gesê.

Volgens Christine is Lééf se toekoms net digitaal, met ‘n nuwe webwerf (wat eersdaag bekend gestel word) en sosiale media vir die hoof-handelsmerk, en net sosiale media vir die uitvloeisel, Mooi soos ‘n Beminde.

“Ons sal voortgaan met ons gewilde wegbreke en beplan ook ‘n volgende toer (in 2018) Israel toe,” het Christine gesê . “Ons sien baie uit na hierdie nuwe begin vir Lééf en ons unieke gemeenskap.”