Media24 neem vyf verbruikerstydskrifte se toekoms in heroënskou

23 November 2016

Media24 het vandag planne aangekondig om afstand te doen van drie van sy internasionale tydskriflisensies – die motortydskrifte TopCar en Top Gear en die weeklikse modetydskrif Grazia. Die maatskappy oorweeg ook die moontlike sluiting van twee van sy eie maandelikse tydskriftitels: die kreatiewe leefstyltydskrif Idees/Ideas en die maandelikse vrouetydskrif Lééf.

Media24 se uitvoerende hoof, Esmaré Weideman, sê die besluit is in pas met die maatskappy se strategie om sy posisie as Afrika se voorste digitale uitgewer te versterk en terselfdertyd ’n hoogs suksesvolle drukmedia-onderneming te bedryf. “Ons hersien gereeld ons portefeulje van uitstekende druk- en digitale handelsmerke – sommige floreer en ander kry swaar in die voortdurend veranderende medialandskap. As ’n innoverende en verantwoordelike onderneming sal ons voortdurend doeltreffend reageer op die verbruiker se behoeftes en voorkeure, nuwe druk- en digitale geleenthede verken en met advertensiekliënte saamwerk in lewensvatbare inhoudsegmente,” sê sy.

Drukmedia bly ’n kernfokus van Media24 met vele van die maatskappy se handelsmerke wat die beste in hul klas is. Media24 publiseer byna 140 koerante en tydskrifte, met sewe van sy koerante en ses van sy tydskrifte in die top 10 volgens die Sirkulasie-ouditburo. Die maatskappy gee die land se grootste koerant, Soccer Laduma, uit en die grootste dagblad, Daily Sun, terwyl sy aantal gemeenskapskoerante steeds groei. Sy tydskrifportefeulje sluit die land se vier grootste verbruikerstitels – Huisgenoot, YOU, Kuier en Move! – in.

Weideman sê Suid-Afrika weerspieël die internasionale neiging dat sekere inhoudsgenres vinnig aanlyn skuif. “Motorinhoud, byvoorbeeld, het suksesvol na die internet migreer en Wheels24 is ’n gewilde bestemming waar lesers goeie motor-inhoud kan kry waar en wanneer hulle dit wil hê. In die modesegment het ons W24 herposisioneer met vars inhoud oor onder meer mode, skoonheid en welwees. Dit het dadelik aftrek gekry onder die Millenniërs, trasioneel lesers van tydskrifte soos Grazia.”

Ishmet Davidson, hoof van Media24 Drukmedia, sê personeel by die tydskrifte wat in gedrang is, word tans oor die potensiële sluitings geraadpleeg. “As deel van die proses oorweeg ons alle beskikbare opsies. Sommige van die publikasies kan verkoop word of die internasionale titels kry dalk nuwe lisensiehouers in Suid-Afrika. As ’n laaste uitweg sal die titels gesluit word.”

Davidson sê die maatskappy se meer as 150 druk- en digitale handelsmerke dien Suid-Afrika se uiteenlopende gehore en bied aan adverteerders “reuse-reikwydte, baie betrokke gehore en uitstekende insig in verbruikers gegrond op data-ontleding”.

Media24 is Suid-Afrika se voorste uitgewer met belange in digitale media en -dienste, koerante, tydskrifte, e-handel, boekuitgewery, drukwese en verspreiding.