Media24 se Cindy Hess een van Afrika se 100 bestes

23 Januarie 2017

Cindy Hess, finansiële hoof van Media24, is gekies as een van Afrika se 100 belowendste ekonomiese leiers.

Dit is die tweede opeenvolgende jaar dat sy hierdie prestige-lys haal. Die lys word saamgestel deur die onafhanklike Franse navorsingsorganisasie Institut, wat spesialiseer in internasionale politieke en ekonomiese ontleding.

“Choiseul 100 Africa 2016: Economic Leaders for Tomorrow” identifiseer Afrika-leiers van 40 en jonger wat na verwagting ’n belangrike rol in die vasteland se ekonomiese ontwikkeling gaan speel. Hess is 76ste op die ranglys en is een van slegs 34 vroue en sewe Suid-Afrikaners op die lys.

Dié Kapenaar is in November verlede jaar by Media24 aangestel. Voor dit was sy die finansiële hoof van Pioneer Foods en finansiële direkteur van Sea Harvest. Sy het ook senior finansiële poste by Woolworths en Transnet beklee.

“Dit is vir my ’n groot eer om by hierdie lys ingesluit te word,” sê Hess. “Ek het baie geleer danksy die blootstelling by die konferensie en bande wat ek met ander Choiseul-wenners gesmee het.”

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, sê Hess se insluiting by die lys vir die tweede opeenvolgende jaar is ’n groot prestasie. “Ons is baie trots op Cindy en dit is vir ons ’n eer om haar veral nou, met al die groot, opwindende veranderinge in die mediabedryf, as ons finansiële hoof te hê.”

Choiseul 100 Africa is ’n unieke manier om die vasteland se ekonomiese leiers bymekaar te bring, sê Dr Pascal Lorot, president van Institut Choiseul. “Hierdie leiers innoveer, skep, ontwikkel en vorm die vasteland in ’n onbetwisbare sentrale plek op die globale ekonomiese landskap.”