Media24 se e-handel- en digitalemedia-ondernemings groei sterk

29 November 2017

Media24 se digitalemedia- en e-handelbesighede het in die ses maande tot September 2017 voortgesette sterk groei getoon, sê die maatskappy in sy tussentydse finansiële resultate wat Woensdag bekendgemaak is.

Omset uit digitale media het met 33% gestyg terwyl die e-handelwinkel Spree sy inkomste met 48% jaar tot jaar opgestoot het. Die maatskappy se volwasse portefeulje – drukmedia, boekuitgewery en verspreiding – het sy handelswins met 60% tot R85m verbeter teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

“Ons is baie tevrede met die dubbelsyfergroei wat ons digitale en e-handelafdelings aangeteken het, siende dat dié besighede die toekoms van Media24 is,” sê uitvoerende hoof Esmaré Weideman. “Vir my is die verrassing van die afgelope ses maande die uitmuntende prestasie van ons volwasse portefeulje danksy voortgesette kostebesparings, beter as verwagte advertensie-inkomste en gesonde boekbestellings in Suid-Afrika en Botswana.”

Sleutelprestasies van Media24 se uitgewerseenhede sluit in:

  • Die digitale uitgewer 24.com, wat gewilde nuuswebtuistes soos News24, Fin24, W24, Channel24 en HuffPost SA insluit, het gemiddelde daaglikse unieke gebruikers met 13% jaar tot jaar uitgebrei en het nou 17m aktiewe maandelikse gebruikers. Daaglikse bladbesoeke het oor dieselfde tydperk met 11% tot 13m toegeneem.
  • News24 het sy markleierskap onder Suid-Afrikaanse uitgewers versterk en het nou ‘n markaandeel van 47%. News24 Edge, die verpersoonlikte weergawe van News24, is deur die Wêreldvereniging van Koerante en Nuusuitgewers as die gesamentlike beste mobiele nuus-app in die wêreld aangewys.
  • Netwerk24, wat reeds die grootste inteken-nuusbestemming in die land is, het sy intekenare met 27% uitgebrei.
  • Die gratis Afrikaanse nuus app NetNuus het uitstekende groei aangeteken en het nou sowat 87 000 maandelikse gebruikers.
  • Die nuwe samevoeger-apps DailyKick en Sliced het bemoedigende groei in aktiewe installerings en gebruikersgetalle getoon, terwyl Bounce die topnuus-app in Nigerië geword het binne slegs ses maande nadat dit bekendgestel is.
  • Ondanks ’n algehele daling in omset het drukmediawerksaamhede verwagtinge oortref danksy ’n oplewing in kleinhandel-advertensies. Die Nuus-afdeling se advertensieverkoopspan, Ads24, is as die beste koerantadvertensie-verkoopspan in Suid-Afrika aangewys by die MOST-toekennings. Media24 het ook sy advertensiemarkaandeel vir koerante en tydskrifte verhoog en sy markleierskap in drukmediasirkulasie behou.
  • Die skoolboekuitgewer Via Afrika en Collegium het gesonde handboekbestellings in onderskeidelik Suid-Afrika en Botswana ontvang, terwyl tersiêre uitgewer Van Schaik by sy sterk uitgewersprogram baat gevind het.

Spree, die grootste aanlyn-modebestemming in Suid-Afrika, het weereens ʼn goeie ses maande agter die rug. Hoogtepunte sluit in:

  • Bestellings het jaar tot jaar met 48% en besoeke met 35% uitgebrei.
  • Saam met ander innovasies het Spree beeldsoek-funksionaliteit in sy app bekendgestel waarmee gebruikers foto’s kan laai om soortgelyke items in die Spree-winkel op te spoor. Hiervoor, en vir sy uitstekende gebruikerervaring, het Spree ’n toekenning as ’n digitale innoveerder by Afrika se Customer Experience Awards verower.

Media24 (uitsluitend Novus) se omset het met 5% tot R2,3mjd gedaal, hoofsaaklik weens die voortgesette afname in advertensie- en sirkulasie-inkomste. Die maatskappy se handelsverlies het met 10% tot R157m toegeneem, deels weens die voortgesette belegging in sy groei-ondernemings.

“Ons gaan voort met intensiewe beleggings in ons groei-ondernemings soos digitale media en e-handel om ’n volhoubare toekoms vir Media24 te verseker,” sê Weideman. “Ons het oor die afgelope paar maande verder in ingenieurskapasiteit en data-ontleding belê om ’n beter gebruikerervaring deur die aanbod van verpersoonlikte inhoud te verseker en adverteerders te help om hul teikengehore meer doeltreffend via ons digitale platforms te bereik.”

Lees die volledige tussentydse verslag vir die ses maande tot 30 September 2017 hier.