Media24 slaan ongelooflike 18 toekennings los by Bookmarks

17 Maart 2017

Media24 het met 18 toekennings weggestap by die 2017 IAB Bookmarks, waaronder die gesogte prys vir die beste uitgewer.

“Ons is verheug oor die erkenning wat 24.com vir hul uitnemendheid in digitale uitgewery ontvang het,” sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24. “Media24 is vinnig besig om van druk na digitaal te migreer – om die waarheid te sê, ons beskou onsself eerstens as ’n digitale uitgewer. Ons glo uitstekende vertelkuns gekombineer met die innoverende gebruik van tegnologie is nie net ’n logiese pad vorentoe nie, maar ’n resep vir sukses, soos hierdie toekennings bewys.”

Afrika se toonaangewende uitgewer het die spesiale prys vir die beste uitgewer gewen asook drie goue, 10 silwer- en vier bronstoekennings. Die maatskappy het skoonskip gemaak in vyf kategorieë. 24.com, Media24 se digitale media-afdeling, het 16 toekennings gewen terwyl die e-modewebtuiste Spree en Soccer Laduma elk een toekenning opgeraap het.

Andreij Horn, hoof van 24.com, sê hy is verheug oor die erkenning wat hulle van eweknieë en die bedryf ontvang het. “Media24 se ongelooflike teenwoordigheid by die toekennings is bewys van die toewyding waarmee ons redaksionele spanne ons gemeenskappe dien, ons produkspanne se noulettendheid wat hul ontwerpe betref, en die vernuf waarmee ons ingenieurspanne nuttige digitale oplossings bou. Ons gehore het ons oor die afgelope jaar beloon met die tyd wat hulle saam met ons deurbring, en nou het ons erkenning vir ons werk van die bedryf gekry. Vanjaar se prysoes stel vir ons ’n nuwe standaard, en ek voel bevoorreg om saam met so ’n talentvolle span te werk.”

Media24 het in die volgende kategorieë gewen:

Goud – Mobiele publikasie, News24 Elections-app
Goud – Uitgewer webtuiste, News24
Goud – Vaardigheid-, nuus- of artikelskryfkuns, Netwerk24 (Die stil aktivis, Le Roux Schoeman)

Silwer – Lewende geleentheidsdekking, News24-video #FeesMustFall
Silwer – Lewende geleentheidsdekking, News24 Elections 2016
Silwer – Uitgewersapps, NetNuus (Yellow brick road to success)
Silwer – Uitgewersapps, News24 Elections 2016
Silwer – Uitgewersapps, News24-app
Silwer – Aanlyn nuusvideo, News24-video
Silwer – Mobiele publikasie, News24
Silwer – Spesialisuitgewer-webtuiste, Soccer Laduma
Silwer – Uitgewerswebtuiste, Netwerk24 (Lessons from behind the paywall)
Silwer – Vaardigheid-, nuus- of artikelskryfkuns, News24 (King Hlaudi’s rise to power, Angelique Hartlieb)

Brons – E-handelwebtuiste, Spree
Brons – Sosialemediapublikasies, Daily Sun (Tshwane on fire)
Brons – Spesialisuitgewer-webtuistes, W24
Brons – Spesiale aanbieding, News24 (Matric results)

Die IAB Bookmark-toekennings bring hulde aan uitgewers, individue, agentskappe en handelsmerke wat kreatiewe, innoverende werk skep wat tasbare resultate lewer.