Media24 stel nuwe finansiële hoof aan

Dinsdag 1 November 2016

Media24 het vandag aangekondig dat Cindy Hess as finansiële hoof met ingang van 1 November aangestel is.

Voor haar aanstelling by Media24 was Hess die finansiële hoof van die genoteerde maatskappy Pioneer Foods waar haar verantwoordelikhede finansiële strategie en verslaggewing, bedryfskapitaalbestuur, interne risiko- en beheermaatreëls en IT-bestuur ingesluit het. Voor dit was sy sewe jaar lank die finansiële direkteur van Sea Harvest en het sy ook senior finansiële poste by Woolworths en Transnet beklee.

“Ons is verheug om so ’n bekwame finansiële hoof as deel van ons bestuurspan te verwelkom,” sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24. “Cindy het ’n fantastiese loopbaanrekord en ons glo sy sal baie goed in ons dinamiese, hoëdrukomgewing inpas. Daar is sekerlik nie tans ’n opwindender bedryf om in te werk nie en ons het Cindy aan boord gebring om ons te help om die pad vorentoe suksesvol te navigeer.”
Hess sê dit is ’n voorreg om by Media24 aan te sluit gedurende so ’n opwindende tydperk in die mediabedryf en sy sien uit na “’n lang en voorspoedige loopbaan by die groep”.

Hess, wat ’n gebore Kapenaar is, het haar BCom-graad in 1996 aan die Universiteit van die Wes-Kaap behaal en die daaropvolgende jaar ’n nagraadse kwalifikasie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Sy het haar klerkskap by KPMG voltooi en daarna by dié firma as ’n senior ouditbestuurder gewerk. Sy het in 2001 as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer.

Hess neem oor by Manie Mayman (61), uittredende finansiële hoof van Media24. Hy het dié pos van 2007 tot 2009 beklee en toe weer van 2014 tot nou toe.

“Dit was ’n absolute voorreg om saam met Manie te werk,” sê Weideman. “Hy het oor die afgelope paar jaar ’n groot rol in Media24 se prestasie en transformasie gespeel en ons kan hom nie genoeg vir sy bydrae bedank nie.”