Media24 stel nuwe hoofbestuurder aan vir Leefstyl-divisie

31 Maart 2017

Raj Lalbahadur, voorheen finansiële hoof van Media24 Leefstyl, is vanaf 1 April aangestel as die hoofbestuurder van hierdie divisie, het Media24 vandag bekend gemaak.

“Raj ken die tydskrif-bedryf soos die palm van sy hand, van die tegniese sy tot die allerbelangrike rol van redaksionele spanne en adverteerders in ons portefeulje van markleiers,” sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24. “Hy het die regte ervaring en vaardighede om die divisie te lei in hierdie oorgangsperiode waar die maatskappy hom vestig as die voorste digitale uitgewer in Afrika, maar steeds ‘n baie suksesvolle gedrukte media onderneming bedryf.”

Die pos het vakant geword toe Media24 in Oktober 2016 sy belange in gedrukte media – koerante, tydskrifte en verspreiding – in een divisie saamgevoeg het onder die leierskap van Ishmet Davidson.

“Danksy Raj se aanvoorwerk handhaaf Leefstyl volgehoud finansiële voortreflikheid, asook aan die uitgewerskant en in bedryfsdoeltreffendheid, en daar is wyd respek vir sy regverdige leierskap en skerp sakevernuf,” sê Ishmet. “Daar wag opwindende tye op die bedryf, maar ook groot uitdagings, en Leefstyl is werklik in goeie hande met hom aan die stuur. Ek wens Raj net die beste toe en sien uit na noue samewerking met hom in sy nuwe rol.”

Lalbahadur, wat sy B.Comm-graad aan Unisa verwerf het en ‘n MBA aan die New York Institute of Finance, het in 2007 as senior finansiële bestuurder by Media24 aangesluit ná verskeie senior poste in onder meer die petroleum- en papierbedrywe en by Sars. Hy is in 2009 as Leefstyl se finansiële hoof aangestel, het twee jaar gelede waargeneem as finansiële hoof van Media24 en dien op verskeie direksies en in spesiale taakspanne en komitees.

“Dit is ’n groot eer om ’n divisie met sulke ongelooflik talentvolle en toegewyde mense te kan lei,” sê Raj. “Ek sien daarna uit om voort te bou op ons reputasie vir tydskrif-handelsmerke van wêreldgehalte, wat stewig gewortel is in die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die belange dien van sowel ons groot, hoogs betrokke gehore as lojale adverteerders dwarsoor ons titels se verskeie platforms.”