Media24-ster wen internasionale dokkie-kompetisie

9 November 2016

Media24 se Nokuthula Manyathi is onlangs met die toekenning vir beste studentefilm by die Megacities Shortdocs-kompetisie in Frankryk bekroon. Dié prestige- internasionale kompetisie vir kort dokumentêre films lok inskrywings van die beste vervaardigers van onafhanklike en studentedokkies van stede soos New York, Mexikostad, São Paulo, Parys, Kaïro, Delhi, Manila, Seoel, Shanghai en Tokio.

Deelnemers van dwarsoor die wêreld het dokkies van vier minute lank ingeskryf met ’n fokus op die uitdagings wat metropolitaanse stede in die gesig staar.

Nokuthula en haar medevervaardiger, Erika Glass, het op Literacy Partners gefokus, ’n organisasie wat help om die ongeletterdheidsprobleem in New York aan te spreek. Hulle het 61 ander deelnemers uitgestof om onder die top vier te eindig en die toekenning vir beste studentefilm in Parys op te raap.

Nokuthula het met ’n studiebeurs van Media24 ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal voordat sy haar internskap by City Press voltooi het. Sy studeer tans vir ’n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Columbia in Amerika, ook met ’n beurs van Media24.