’n Ekstra feestyd-bederf: VIA nou in hoë definisie

6 Desember 2016

In 2016 het die Afrikaanse leefstylkanaal, VIA (DStv-kanaal 147), besonder gevaar. Sedert die bekendstelling in November 2015 het VIA se spitstyd-gehoor met ’n indrukwekkende 60% gegroei. Nou ‘n jaar later word VIA se nuwe en ou aanhangers met ’n spesiale feestyd-bederf verras: Afrikaanse DStv-kykers se gunsteling-leefstylkanaal is nou in hoë definisie beskikbaar.

Van 1 Desember 2016 kan kykers dus ál die programme op VIA in HD geniet. Alles wat pragtig is op VIA word natuurlik nou nog pragtiger in HD: die kos lekkerder, die troues luukser en die dekor is helderder.

“Media24 se leefstylkanaal, VIA, het in jaar een 58 plaaslike produksies van stapel gestuur, ons kykteikens ver oortref en ’n nuwe platform vir jonger en ’n uiteenlopende groep Afrikaanse kykers geskep. Dis die kersie op die koek dat VIA die jaar op so ’n hoë noot kan eindig,” sê Izelle Venter, VIA se kanaalhoof.

Programroosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Twitter om op hoogte te bly met al die nuutste verwikkelinge.

VIA is gemik op Afrikaanse gesinne en wentel om kos, styl en verhoudings.