Netwerk24 bankvas agter die bevordering in inheemsetaal-reklame

 

16 Mei 2017

“As inheemse reklame uithaal en wys, kán die resultate nie geïgnoreer word nie”

“Afrikaanse en inheemse reklame is onder al meer druk weens globalisering. Dit kan net oorleef as dit standaarde van kreatiwiteit daarstel wat deur ander nagevolg wil word en as dit die onderskeie teikenmarkte so doeltreffend bereik dat die resultate nie geïgnoreer kan word nie. As al die rolspelers vir wie dit belangrik is, saam en gefokus hieraan werk, kan ons die toekoms van ons inheemse reklamebedryf help verseker.”

Só sê Henriëtte Loubser, aangewese redakteur van Netwerk24, digitale tuiste van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport, wat vanjaar sy steun as platinumborg aan die Pendoring Reklametoekennings toegesê het.

Innoverende konsepte

Loubser glo dit is belangrik dat inheemse reklame uitgebou word en in dié opsig is dit Netwerk24 en ander media-rolspelers se taak om dit by maatskappye tuis te bring dat hulle hul mark baie beter bereik as hulle in die teikenmark se hartstaal met hulle kommunikeer – in die klanke, verwysingsraamwerk en humor wat eie aan taalgroepe is.

“Hierdie boodskap sal egter net doeltreffend wees as ons die resultate het om dit te bewys en daarom het ons ook die taak om met innoverende konsepte na adverteerders te gaan wat hulle bereid sal wees om te beproef,” beklemtoon sy.

Jo van Eeden, uitgewer van Netwerk24, glo digitale nuusnetwerke en adverteerders kan saam baie vermag “as jy ʼn adverteerder het met ʼn aptyt om te innoveer en te eksperimenteer. Binne 24.com is reeds ʼn paar baie suksesvolle reklameveldtogte vasgeknoop en uitgevoer, wat bemoedigend en inspirerend is.”

Wisselwerking

Volgens Van Eeden reik Netwerk24 deurlopend uit na adverteerders om te hoor met watter veldtogte hulle besig is en watter boodskappe hulle wil oordra om te kyk hoe Netwerk24 hulle kan help om dit aanlyn te doen.

“Deurlopende opleiding van verkoopspanne is noodsaaklik, maar ook die beskikbaarstelling van inligting aan adverteerders sodat hulle kan weet wat die moontlikhede is.  Ons fokus dikwels daarop dat die joernalistieke omgewing digitaal ontwrig is, maar vergeet dit is die hele mediabedryf – advertensies inkluis – wat ontwrig is. Hoe navigeer ons dit saam – as uitgewers en adverteerders? Dít is ons uitdaging,” beklemtoon sy.

Van Eeden verwys na die hoë gehalte van die bekroonde advertensies, algar in Engels, by vanjaar se Bookmarks-prysuitdeling vir innoverende en voortreflike digitale werk. “Die vraag is hoe ons in ʼn Afrikaanse en inheemse taal-omgewing daardie selfde grense kan verskuif. Netwerk24 en NetNuus was die enigste Afrikaanse finaliste wat by die Bookmarks vereer is (twee silwer pryse en ʼn goue). Pendoring bekroon jaarliks puik Afrikaanse en inheemse taal-advertensies, maar wanneer dit by digitale platforms kom, is daar nog groot ruimte vir kreatiwiteit en innovasie.”

Dit is ook nodig dat adverteerders en bemarkers hulle daartoe verbind om uit die staanspoor met ʼn verbruiker in sy of haar moedertaal te kommunikeer. “Dit help nie tyd, geld en kreatiwiteit word gestort in ʼn Engelse veldtog en dan word die advertensie as ʼn nagedagtenis vinnig in Afrikaans of ʼn inheemse taal vertaal nie. Iets gaan verlore in die vertaling,” beklemtoon Van Eeden.

Reklame is nie net ’n verkooptegniek nie, voeg Loubser by. “Dit is ook ’n toonvenster van kreatiwiteit en dit weerspieël kultuurgoedere. Op hierdie manier help dit tale, kulture en kreatiwiteit lewendig hou.”

Geleenthede, uitdagings

Verbruikers wat deesdae enige tyd, enige plek toegang het tot die media, gee Netwerk24 nie net nuwe maniere om met hulle te gesels en hulle te bedien nie; dit bied ook waardevolle geleenthede om na hulle te luister en hul behoeftes te peil. Netwerk24 gebruik dié inligting om die waarde-aanbod vir lesers/gebruikers én adverteerders te verhoog, sê Van Eeden voorts.

Volgens Loubser beweeg Media24 saam met veranderende verbruikersbehoeftes “deur vir ons wye mark premium digitale inhoud op ’n verskeidenheid platforms aan te bied. Die uitdaging is egter nou om ’n volhoubare sakemodel te skep wat ons in staat stel om gehaltejoernalistiek te handhaaf, uit te bou en van ʼn toekoms te verseker. Die joernalistiek moet trouens van so ’n standaard wees dat lesers/gebruikers bereid sal wees om daarvoor te betaal, selfs in ’n digitale era waar daar ’n oorvloed gratis inligting beskikbaar is.

“Netwerk24 wil die werk namens ons lesers/gebruikers doen en vir hulle unieke en akkurate inhoud gee wat hulle kan vertrou – hetsy in woord of beeld of klank – asook ʼn verskeidenheid van menings wat hulle nodig het om te verstaan wat in ons land en die wêreld gebeur, wat hulle help sin maak van hul wêreld en hoe hulle konstruktief kan bydra tot ’n Suid-Afrika en ’n planeet waar mense verdraagsaam teenoor mekaar is en elkeen sover moontlik die geleentheid kry om hul potensiaal te bereik. Ons wil ook met die tegnologie en data tot ons beskikking vir adverteerders nuwe, gefokusde en innoverende maniere gee om hul mark te bereik.”

Sukses

Ofskoon Netwerk24 ʼn betreklike jong handelsnaam is, bedryf dié digitale nuusnetwerk tans die suksesvolste betaalmuur in Suid-Afrika.  Dit is Junie verlede jaar aangepas en sedertdien het intekenare verdubbel, sê Van Eeden.

“Ons is ʼn bewys dat mense bereid is om te betaal vir nuus wat hulle kan vertrou en gesaghebbende menings. Netwerk24 is die versamelplek vir almal wat Afrikaans is – die plek waar almal met (ʼn) mening kan saampraat en verskil. Ons het ʼn lewendige gespreksforum waar lesers kommentaar kan lewer – een van die min webwerwe wat nog leserskommentare toelaat.

“Ons publiseer vars en unieke inhoud van 05:00 tot 23:00 weeksdae en van 07:00 tot 23:00 oor naweke. Ons het die omvattendste verslagspan in die land met verslaggewers van Polokwane tot in Kaapstad, van Kathu tot in Kroonstad. En ons bied nie net groot nasionale nuus nie, maar ook gemeenskapsnuus wat deur ons netwerk van plaaslike koerante ingesamel word,” sê Van Eeden.

Vorentoe

Volgens haar begin die naam Netwerk24 nou vorm aanneem en inslag vind. “Dit word presies dít – ʼn netwerk van die beste joernalistiek wat Media24 in Afrikaans kan bied. Ons werk hard daaraan om ons nuwe handelsnaam te bemark en so groter bewustheid te kweek van die bemarkingsmoontlikhede wat ons bied,” vat sy saam.

 

Pendoring bedank die volgende borge en vennote: 

Platinum: ATKV, kykNET, Netwerk24, Toyota
Silwer: Huisgenoot, Rapport, VIA TV
Brons: Ads24, Caxton-gemeenskapskoerante, Kuier, OFM
Vennote: Maroela Media, Marklives.com, Newsclip
Aanlyn-vennoot: Bizcommunity.com