Nuwe redakteur vir Huisgenoot

2 Mei 2017

Yvonne Beyers, Gauteng-redakteur van Huisgenoot en YOU, is vanaf 1 Junie aangestel as die nuwe redakteur van Huisgenoot, het Media24 vandag aangekondig.

“Beyers is ‘n deurwinterde joernalis en sy verstaan die Huisgenoot-handelsmerk en -mark deur en deur,” sê Minette Ferreira, hoofbestuurder: Media24 Weekblaaie. “As redakteur van die besige Gauteng-kantoor het sy die afgelope vier jaar ‘n leidende bydrae gemaak tot ons weekblaaie. Ek wens haar net die beste toe en sien baie uit na die pad vorentoe met haar aan die stuur van die kroonjuweel in ons tydskrifte-portefeulje.”

Die pos het vakant geword met die aanstelling van Henriëtte Loubser as redakteur van Media24 se Afrikaanse digitale nuusdiens, Netwerk24.

Sedert Beyers haar joernalistieke loopbaan in 2003 by Die Burger begin het, het sy wye ervaring opgedoen by verskeie Media24 koerante en tydskrifte, onder meer as skrywer by Huisgenoot en die toenmalige Insig, en as nasionale redakteur van By, die Saterdag-bylaag van Media24 se Afrikaanse dagblaaie. Sy was ook vir ‘n jaar lank aanbieder van die kykNET-joernaalprogram Flits.

Beyers het al vier haar grade cum laude verwerf –‘n BA en BPhil Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch, ‘n BA Honneurs-graad aan die Universiteit van Kaapstad en haar MSc-graad in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Edinburg.

“Dit is ’n groot eer en voorreg om aan die begin van Huisgenoot se tweede eeu en in uitdagende maar ook opwindende tye die redakteur te word van hierdie fantastiese handelsmerk,” sê Beyers.

“Huisgenoot is ’n wonderlike spieëlbeeld van die lewe self, wat in uitstekende joernalistiek alles dek wat Afrikaanse lesers moet en wíl weet – weekliks in die tydskrif, daagliks op die webtuiste en deurlopend in ons handelsmerkuitbreidings. Ek sien besonder baie uit daarna om saam met die hoogs toegewyde, kreatiewe span inhoud te skep en oplossings te vind wat sal voortgaan om ons lesers te boei, verras en verryk.”