Pendoring 2016 se wenners: King James swaai weer die septer!

29 Oktober 2016

King James is weer koning! Dié reklame-agentskapsgroep het vir die tweede jaar agtereenvolgens met sy veldtog vir die Sanlam Musiekfees Pendoring se gesogte Prestige-toekenning verower. Die Umpetha-toekenning vir die beste advertensie in ʼn inheemse taal behalwe Afrikaans word gedeel deur Ogilvy & Mather, Johannesburg, vir sy radio-advertensie vir KFC, Slyza Tsotsi 3 en The Odd Number, ook vir ’n radio-advertensie Umsebenzi vir BBC Brit. Albei advertensies is in Zoeloe.

Die Prestige-toekenning en die Umpetha-toekenning behels elkeen ʼn oorsese studiereis ter waarde van R100 000.

Met hul inskrywing Die water is perfek! in die kategorie Geïntegreerde Veldtog, het Carina Bonse en Gabi van Niekerk van Red & Yellow School of Logic and Magic in Kaapstad nie net met die enigste goue Pendoring in die studente-kategorie weggestap nie; hulle is ook as die algehele wenners in die studentekategorie bekroon.

Die 2016 Pendoring-wenners is gisteraand, 28 Oktober 2016, tydens ’n glansgeleentheid by Vodacom World in Midrand onder dawerende applous aangekondig. Die kunstenaars Elvis Blue en Code Red Drum Corps het die gaste in vervoering gehad, om nie te praat van die seremoniemeesters Schalk Bezuidenhout en Rozanne McKenzie wat hulle uitstekend van hul taak gekwyt het nie.

Die beoordelaars het die lof van King James se reklameveldtog Elke woord ʼn meesterstuk vir Sanlam se musiekfees besing. “Oorspronklik en innoverend. Dit toon ook ’n waardering vir die onderwerp van Afrikaanse musiek. Daarbenewens het King James daarin geslaag het om ’n interaktiewe lewenservaring te skep wat die toeskouers nie sommer sal vergeet nie,” het hulle gesê.

Die gehalte van die inskrywings in die radio-kategorie het die beoordelaars vanjaar behoorlik beïndruk en dit is dus nie vreemd dat albei die Umpetha-wenners uit dié kategorie kom nie. Maar dit was nie net die radio-advertensies in inheemse tale wat die beoordelaars se lof ingeoes het nie; hulle was ook van mening dat die inheemse tale in die algemeen “hul spiere gebult het met ’n oorspronklike aanslag en ’n groot begrip van die Suid-Afrikaanse gees in die advertensiewese,” wat die wenners van die Umpetha-toekenning by uitnemendheid getoon het.

Altesaam nege (9) goue en 37 silwer Pendoring-trofeë is toegeken: agt (8) goues aan die professionele agentskappe en een (1) aan studente, met 29 silwer aan die professionele agentskappe en agt (8) silwer aan studente.

Van die agt (8) goue Pendorings wat aan die agentskappe toegeken is, het King James Group, Mullen Lowe, Kaapstad, en Ogilvy & Mather, Johannesburg, elkeen twee (2) verower en FCB, Johannesburg, en The Odd Number elkeen een (1).

Wat die silwer trofeë betref, het FCB, Johannesburg, die ander agentskappe die loef afgesteek deur ses (6) silwer trofeë in te palm, gevolg deur Joe Public, FCB 1886 en Ogilvy & Mather, Johannesburg, met drie (3) elk. King James Group, Promise Brand Specialists, DDB South Africa en DPK het elkeen twee (2) silwer toekennings ontvang terwyl Mullen Lowe, Kaapstad, FCB, Kaapstad, 34°, Jupiter Drawing Room, OpenCo en Ninety9Cents Communications elkeen een (1) gewen het.

Die silwer wenners in die studente-kategorie is: Noordwes-Universiteit (1); AAA School of Advertising, Johannesburg (1); Vega School of Brand Leadership, Johannesburg (2); AAA School of Advertising, Kaapstad (1) en Stellenbosch Academy of Design and Photography (3).

Om al die wenners te sien klik hier.