Rapport wen Taco Kuiper-prys vir die tweede keer in ‘n ry

29 Maart 2017

Suzanne Venter, ’n senior joernalis by Rapport, is met die 2016 Taco Kuiper-prys vir ondersoekende joernalistiek bekroon vir haar ondersoek oor die Life Esidimeni-tragedie. Haar verslag oor hoe meer as 94 psigiatriese pasiënte gesterf het nadat hulle na ongeregistreerde NRO’s verskuif is, het begin met ’n wenk op Facebook en vorm nou deel van ’n ondersoek deur die gesondheidsombudsman.

“Die grootste belonging vir my sal altyd wees dat ek in my doel geslaag het,” sê Suzanne. “Ek wou daardie arme mense help en die skuldiges aan die kaak stel wat hulle so sleg behandel het. Niemand het die reg om te bepaal wat ’n ander mens se lewe werd is nie.”

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, sê hy en Rapport se redaksie het besef die Esidimeni-storie is belangrik lank voordat dit ’n nasionale skandaal geword het. “Suzanne het met haar taai vrae volhard, selfs toe die Gautengse LUK van gesondheid, Qedani Mahlangu, herhaaldelik in die openbaar ontken het daar was enige pasiëntsterftes,” sê hy.

“Ons is trots daarop om die benarde omstandighede van psigiatriese pasiënte deel van die nasionale agenda te gemaak het en ontsettend trots daarop dat dit die tweede agtereenvolgende jaar is dat ’n joernalis van Rapport met Suid-Afrika se belangrikste toekenning vir ondersoekende joernalistiek bekroon word.”

Dit is ook die vierde keer dat ’n joernalis van Media24 hierdie gesogte toekenning wen sedert dit 11 jaar gelede bekendgestel is.

Suzanne stap weg met R200 000 in prysgeld.