SA se eerste vegan-tydskrif vandag op die rak

 30 Januarie 2017

Die eerste uitgawe van Media24 se nuwe tydskrif, THE VEGAN LIFE (Ethical Eating for Plant-nourished People), word vandag bekendgestel. Met sy fokus op ’n veganistiese leefstyl, vul die glanstydskrif van 84 bladsye ’n unieke gaping in die mark.

Veganisme, ’n vegetariese dieet wat ook eiers, suiwelprodukte en ander produkte van dierlike afkoms uitsluit, raak al hoe meer gewild soos mense toenemend bewus raak van wat hulle eet. PETA (People for the Ethical Treatment of Animals) het selfs 2016 #TheYearOfVegan gedoop.

“Die massiewe skuif na veganisme is baie interessant,” sê Marianne Erasmus, uitgewer van THE VEGAN LIFE. “Dit weerspieël ’n groeiende bewustheid van ons impak op die wêreld, want veganisme is nie net gebaseer op wat goed is vir die individu nie, maar wat die beste is vir die planet. Ons steun die besluit om eties te leef en die aktivisme daaragter, en ons is trots daarop om die eerste vegan-tydskrif in Suid-Afrika bekend te stel.”

THE VEGAN LIFE vertel jou alles wat jy moet weet oor veganisme. Dit spreek ook sekere kontensieuse vraagstukke aan, soos die aanhou van troeteldiere, en is propvol raad van deskundiges soos die geregistreerde dieetkundige Jessica Kotlowitz en plantvoedingskundige Dawn Macfarlane. Die eerste uitgawe van die tydskrif vertel hoe om ’n 21 dag lange vegan-uitdaging te begin en bevat 32 heerlike vegan-resepte, koslyste van wat om te eet en ’n gids vir die beste restaurante in Kaapstad, Johannesburg, Durban en Pretoria met vegan-kos op die spyskaart.

THE VEGAN LIFE kos R49 en is beskikbaar by alle groot winkels. Om die digitale weergawe te koop klik hier.