SARIE KOS gee die kulinêre pas aan met nuwe kosredakteur

20 Januarie 2017

’n Dekade gelede het SARIE besluit om SARIE KOS bekend te stel, want daar was ’n ooglopende behoefte in die mark aan ’n tydskrif vol eerlike Afrikaanse kos met ’n moderne kinkel. SARIE KOS was dadelik ’n wegholsukses en met die 50ste uitgawe wat binnekort op die rak is, is dit tyd om dinge behoorlik op te kikker.

SARIE se huidige kosredakteur, Herman Lensing, wat ook ’n gewilde TV-persoonlikheid is, hou ook nou die leisels van SARIE KOS. Sy liefde vir kos en ongelooflik kreatiewe aanslag sal duidelik sigbaar wees in die nuwe kwartaallikse uitgawes van SARIE KOS.

Onder Herman se leiding sal SARIE KOS op kos fokus wat hedendaags en byderwets is, maar ook op ou gunstelinge waarsonder ons nie kan leef nie. Dit sal die stories vertel van plaaslike koshelde wat ons kulinêre kultuur skep, maar ook gewilde internasionale kospersoonlikhede insluit. Herman sal ook idees deel vir onder meer maklik onthaal oor naweke en kosoplossings vir elke dag. En natuurlik vir resepte vir gesond eet en spesiale dieetvoorkeure, veral vir diabete.

Met Herman – wat onlangs ingesluit is by die Mail & Guardian se gesogte lys van 200 jong Suid-Afrikaners om dop te hou en al twee gewilde resepteboeke op sy kerfstok het – gaan SARIE KOS waarlik ’n kostydskrif vir 2017 wees: modern, prakties en mooi met ’n tikkie nostalgie en sakpasresepte.