Vir die Voëls ’n lokettreffer

1 Februarie 2017

Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, het reeds meer as R8,5 miljoen by die loket verdien en byna 165 000 mense het al in teaters daarna gaan kyk. Dit maak dié fliek, wat op ’n lesersegpaar se ware liefdesverhaal gegrond is, die vyfde grootste loketverdiener nog onder Afrikaanse flieks. Net Vir Altyd, Liefling, Pad na Jou Hart en Semi-Soet het beter gevaar.

“Vir die Voëls se hoofakteurs is opkomende talent, vergeleke met die ander topflieks se meer gevestigde sterre, wat die prestasie nog groter maak,” sê Huisgenoot se redakteur, Henriëtte Loubser.

“Ons akteurs, Simoné Nortmann en Francois Jacobs, het hulself egter skitterend van hul taak gekwyt en hul jong talent bewys.

“Ons is dankbaar teenoor die vervaardiger, Danie Bester van The Film Factory, regisseur, Quentin Krog, en die res van die span vir hierdie kragtoer en sien saam met ons vennoot, kykNET-Films, uit na die DVD se uitreiking rondom Valentynsdag.”