Frontpage Slideshow | Copyright © 2006-2012 JoomlaWorks Ltd.

Nuus

  • Grad24 toon topresultate

    Volgens SAGRA (SA Graduate Recruiters Association) se 2013-opname, wat onder gegradueerdes landwyd gedoen is, is Media24 die beste werkgewer vir gegradueerdes in die mediabedryf. Die naaswenners is die SAUK en MultiChoice. Media24 se uiters geslaagde Grad24-werwingsprogram is nou in sy derde jaar en speel 'n belangrike rol om Media24 se profiel op SA kampusse te bevorder en toptalent te werf. "Ek is so trots op die mense wat die program bestuur – ons talentbestuurder Jasmine Adam, opleidingskoördineerder Makhosi Chiwashira en talentspesialis Adam Cooke – asook die redakteurs, hoofbestuurders en menslikehulpbronbestuurders wat kampuspraatjies aanbied en help met die keuringsproses," sê menslike hulpbronne se hoofbestuurder Shelagh Goodwin.
    Grad24-aansoeke vir 2014 is nou oop. Media24 wil 20 beurse aan honneursstudente in die joernalistiek toeken en 10 verdienstelike studente 'n jaar lange Gegradueerdes in die Media-internskap by sy toonaangewende publikasies aanbied. Gegradueerdes in die Media-aansoekers moet in die finale jaar van enige graad wees, hetsy rekeningkunde, rekenaarwetenskap, kleinhandelbestuur of modeontwerp. Vir meer inligting oor Grad24 kliek hier, “like” Grad24 op Facebook of volg dit op Twitter. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 16 Augustus.

  • Wenners van prestige-pryse aangewys

    Die wenners van die 2013 Media24 Boeke-pryse en die Jan Rabie Rapport-prys is onlangs by 'n spoggeleentheid by die Commodore-hotel in Kaapstad aangewys. Ingrid Winterbach het die WA Hofmeyr-prys vir die beste Afrikaanse literêre werk ontvang vir Die Aanspraak van Lewende Wesens. Die Herman Charles Bosman-prys vir die beste Engelse literêre werk is aan Rustum Kozain toegeken vir sy digbundel groundword. Stephen Ellis het die Recht Malan-prys vir die beste nie-fiksie ontvang vir External Mission.
    Die M.E.R.-pryse vir die beste jeugroman en die beste geïllustreerde kinderboek is onderskeidelik toegeken aan Tot Siens, Koning Arthur deur Annelie Ferreire en Ben en die Walvisse deur Ingrid Mennen, geïllustreer deur Irene Berg. MS Burger het die Jan Rabie Rapport-prys ontvang vir haar debuutkortverhaalbundel, Bloedfamilie. Boeke wat in 2012 deur Media24 Boeke en Jonathan Ball-uitgewers uitgegee is, het vir die Media24 Boeke-toekennings in aanmerking gekom. Enige werk wat in 2012 uitgegee is, ongeag die uitgewer, het vir die Jan Rabie Rapport-prys in aanmerking gekom. Altesaam 92 inskrywings is ontvang en drie werke is in elke kategorie gekortlys.

  • The SpaceStation kry digitale swaargewig by

    SA se voorste digitale mediaverkoopsmaatskappy, The SpaceStation, het onlangs Myles Brown as die kanaalverkoopsbestuurder vir Kalahari, MWEB, GoMetro en ESPN aangestel. Hy het wye ondervinding van die digitale veld en was tot onlangs die senior kliëntebestuurder by die digitale verkoopshuis Habari Media se Domino-afdeling. "Ek is verheug oor die aanstelling," sê Myles.
    "Die rol as kanaalverkoopsbestuurder is 'n groot geleentheid om die verkoopstrategie te implementeer, verkope te dryf en verhoudings tussen The SpaceStation en ons buitevennote te kweek." The SpaceStation se uitvoerende hoof Gustav Goosen sê, "Ons is opgewonde oor Myles se aanstelling. Met sy waardevolle ondervinding is hy die ideale persoon om van ons topplatforms te bestuur."

  • Werwingsprojek skep 180 nuwe werkgeleenthede

    Meer as 100 Soweto-inwoners was onlangs by Daily Sun se herbekendstelling by Thokoza-park in Rockville, Soweto, om meer oor werkgeleenthede vir bestuurders en straatverkopers uit te vind. Die Daily Sun-span was byderhand om straatverkopers te werf en op te lei. "Werkskepping is 'n ernstige saak vir ons," sê Daily Sun en Sunday Sun se sirkulasiebestuurder, Andre van Tonder.
    "Ons het voorheen 120 Daily Sun-straatverkopers in Soweto gehad en nou het ons 300." Tembisa in Ekurhuleni is volgende op die lys. "Ons gaan van een gebied na die volgende. Ons wil hê ons lesers moet hul Daily Sun maklik in die hande kry." Vir meer inligting oor die bestuur van straatverkopers bel 011 713 9739. As jy nie 'n eksemplaar van Daily Sun in die hande kan kry nie, bel 011 877 6000.

  • Lekker leesstof vir pa's

    In hierdie week se Vadersdaguitgawe van City Press se i Magazine deel die komediant John Vlismas 40 goed wat pa-wees hom geleer het. Die weeklikse tydskrif kyk ook deur die lens van die fotograaf Leon Sadiki na die lewe in 'n vlugtelingskamp in die DRK, stel vas of dit moontlik is om sonder plastiek te leef en stel video- en aanlynspeletjies op die proef. Die radio- en TV-persoonlikheid Robert Marawa toetsbestuur die BMW M6 Coupé, die span kook heerlike steurgarnale en pasteie met bier spesiaal vir pa's en kyk na 'n verskeidenheid van die beste geskenke vir Vadersdag. i Magazine word deur New Media Publishing uitgegee.

  • Dagsorgsentrum kry nuwe laag verf

    Die Kouga Express-span het onlangs 'n gemeenskapsprojek van stapel gestuur en kinders by die Haasbekkies-dagsorgsentrum in Gill Marcus, Humansdorp, breed laat glimlag. Die sentrum sorg vir kinders van 0 maande tot ses jaar oud. Die span het die sentrum opgekikker deur die binnekant te verf en die mure met vrolike diereprente te versier. Hulle het ook vier vrugtebome geplant. Die verf is deur City Paint and Tool geborg en Patensie Citrus het die vrugtebome geskenk.

  • All Stars skitter by WP Koerante-toekennings

    WP Koerante (WPK), die uitgewer van TygerBurger, People's Post en City Vision, het onlangs die eerste All Star-toekenningsfunksie by die All Star-teater in Brackenfell, Kaapstad, gehou. Lede van die koerante se advertensie- en redaksionele spanne is vir hul voortreflike werk beloon. Die wenners in die advertensiekategorie is People's Post Verteenwoordiger van die Jaar Shamil Orrie, TygerBurger Verteenwoordiger van die Jaar en WPK Verteenwoordiger van die Jaar Tanya Slabbert, People's Post Meriete-toekenningwenner Michelle Poggenpoel en TygerBurger Meriete-toekenningwenner André Schreuder. Die gesamentlike wenners van die WPK Joernalis van die Jaar-toekenning is Liam Moses van People's Post en André Bakkes van TygerBurger.

  • Media24 help om skoolmeisies te bemagtig

    'n Groep meisies van die Hoërskool Grassdale in Grassy Park, Kaapstad, het Media24 se uitvoerende hoof, Esmaré Weideman, ontmoet toe hulle onlangs die Naspers-sentrum op Take a Girl Child to Work-dag besoek het. Vanjaar se tema was "Bemagtig 'n meisie, bemagtig 'n nasie". Sedert die bekendstelling van die projek in 2003 het meer as 2 000 maatskappye en regeringsafdelings daaraan deelgeneem en is meer as 600 000 skoolmeisies in Graad 10 tot 12 aan 'n wye verskeidenheid loopbaan- en werkgeleenthede in die openbare en private sektor blootgestel. Sakebestuurders, redakteurs, joernaliste en fotograwe het die meisies ook toegespreek en meer insig gegee oor ons industrie.

  • Nuwe bemarkingsbestuurder vir kalahari.com

    Kirby Gordon is onlangs as kalahari.com se bemarkingsbestuurder aangestel en sal vir die handelsmerk se wyer promosionele strategie verantwoordelik wees. Hy is 'n ervare bemarkingsman en het voorheen vir Sanlam Life, die reklameagentskap The Jupiter Drawing Room en die sokkerstrokiesprentboek Supa Strikas gewerk. Kirby, wat 'n MBA aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool voltooi het, beskryf kalahari.com as 'n "pragtige handelsmerk. Dit het persoonlikheid, dis Suid-Afrikaans en dis groot pret. Dit het ook 'n toegewyde span met goeie strategiese insigte."

  • Melanie Verwoerd se memoires sien die lig

    Melanie Verwoerd se memoires, The Verwoerd Who Toyi-toyied, is onlangs by The Book Lounge in Kaapstad bekendgestel. Sy word as SA ambassadeur in Ierland aangestel en word hoof van UNICEF in Ierland – tot haar groot liefde, die bekende Ierse omroeper, Gerry Ryan, onverwags sterf. Die omstredenheid rondom sy dood lei tot haar afdanking. Dis die inspirerende liefdesverhaal van 'n moderne vrou wat haar eie keuses gemaak het en daarvolgens geleef het. Dit sny ook na die kern van die media, politiek en mag in die moderne wêreld.