Baie geluk aan NB-Uitgewers, wat pas ’n internasionale prys losgeslaan het vir The President’s Keepers, Jacques Pauw se opspraakwekkende politieke exposé wat in 2017 uitgegee is.

Die Vereniging van Amerikaanse Uitgewers se prestigeryke International Freedom to Publish Award word jaarliks toegeken aan ’n uitgewer van buite Amerika wat moed en vasberadenheid aan die dag gelê het om vryheid van spraak te verdedig. The President’s Keepers het verskeie hooggeplaaste staatsamptenare onder die soeklig gebring en verskeie pogings is aangewend om die boek se verspreiding stop te sit.

Die vereniging se president en uitvoerende hoof, Maria Pallante, sê “NB-Uitgewers se volharding om die publikasie van hierdie belangrike boek te verseker, ten spyte daarvan dat hulle genadelose teenkanting verwag het en steeds van verskeie staatsinstellings kry, is universeel inspirerend”.

Media24 Boeke en NB-Uitgewers se besturende direkteur, Eloise Wessels, sê dit is ’n besondere voorreg om met hierdie prys vereer te word, en aan te sluit by vorige ontvangers van die prys uit lande soos China, Iran, Bangladesj, Turkye en Egipte.

“Toe ons besluit het om The President’s Keepers uit te gee het ons geweet daar gaan baie risiko’s wees. Die hoofspeler in die boek het die hoogste pos in die land beklee.”

Eloise sê hulle moes die boek onder die grootste geheimhouding redigeer, laat set, druk en versprei en het selfs die kodenaam “The Peacock’s Keepers” gebruik. “Hierdie prys is opgedra aan my mede-uitgewers, ons ondersteunende boekhandelaars en die uitstekende ondersoekende joernaliste wat aanhou om korrupsie bloot tê en te beveg, selfs wanneer dit hulle fisies en andersins in gevaar stel.”