Mapula Nkosi, tans redakteur van Sunday World, is as die hoofredakteur van Daily Sun en Sunday Sun aangestel. Sy sal haar nuwe pos op 1 Junie opneem.
Mapula het ’n honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf en het ’n nagraadse diploma in bemarking en sakebestuur aan Unisa voltooi.
Sy is ’n gesoute joernalis en het verskeie senior redaksionele poste beklee in ’n loopbaan wat in 1997 as nuusverslaggewer by City Press begin het, waar sy later tot leefstylredakteur bevorder is voordat sy in 2008 as adjunkredakteur by True Love aangesluit het. Sy is in 2012 as adjunkredakteur van die Sowetan aangestel en beklee haar huidige pos sedert 2017 – in albei gevalle as die eerste vroulike aanstelling.
“Ons verwelkom Mapula hartlik terug by Media24,” sê Rika Swart, uitvoerende hoof van Media24 Drukmedia. “Daily Sun en Sunday Sun is van groot strategiese waarde vir Media24 en is op die punt van ’n belangrike druk en digitale integrasie. Sterk leierskap met soliede druk- en digitale ervaring in poniekoerant-nuuskantoorbestuur is belangrik vir die koerante se groei en volhoubaarheid.
“Mapula is die ideale kandidaat vir hierdie rol. Sy het haar hele loopbaan by publikasies deurgebring wat op hierdie mark gemik is en het ’n diep begrip van die unieke uitdagings wat met bestuur van ’n poniekoerant gepaard gaan. Haar ervaring by True Love sal ook van onskatbare waarde wees om Daily Sun se groot, veral digitale, vroulike lesers te dien. Ek sien daarna uit om nou met haar saam te werk en wens haar alles van die beste toe.”